Die President van Suid-Afrika, Cyril Ramaphose het in sy onlangse staatsrede aangekondig dat die Groendruppel-sertifiseringsprogram weer ingestel sal word. Mafube Business Forum (MBF) is bly dat hierdie belofte nagekom word.
In sy voorwoord oor die Groendruppel Nasionale Verslag wat op 30 Maart bekend gemaak is, het die minister van Water en Sanitasie, mnr Senzo Mchunu, gesê dat dit ‘n hoogsaangeskrewe projek is.
Dit is ‘n prestige reguleringsprogram met die potensiaal om die afvalwatersektor te aan te por op 'n pad na verbetering. “Afvalwaterbestuur en sanitasie is uiters belangrik vir die waardigheid van ons mense en integriteit van die omgewing. ‘n Hoë standaard moet dus op hierdie gebied gehandhaaf word.”
“Dit bly onaanvaarbaar dat rioolstortings en onsuksesvolle afvalwaterbehandelingswerke die omgewing, lewensbestaan en gesondheid van baie gemeenskappe op 'n daaglikse basis tans steeds negatief beïnvloed. Die huidigie stand van sake wek groot kommer, omdat so baie aanlegte telling onder 31% het. Dit is ‘n duidelike aanduiding van die 'n treurige toestand van afvalwaterbestuur en die risiko wat dit vir beide die omgewing en openbare gesondheid inhou.”
“Ek stel dit duidelik dat daar opgetree sal word teen die munisipaliteite wat die lewens van ons mense en omgewing openlik in gevaar stel.”
Minister Mchunu het ‘n oproep aan politieke, openbare en private leierskap gedoen om hul verbintenis tot die verslag te verklaar om dit as die keerpunt na volhoubare verbetering te gebruik, "omdat almal 'n verskil binne hul invloedsfeer kan maak."
Minister Mchunu onderneem om die Minister van Samewerkende Regering te betrek, sodat die Nasionale Regering drastiese ingrypingsmaatreëls kan tref vir die verbetering van waterdienste. Die verslag sal gebruik word as basis vir die Waterdienste-verbeteringsprogram (‘n 10-punt-plan) om die volhoubare ommeswaai wat vereis word, te meet. Uit sekere Groen Druppel verslae (wat op aanvraag van MBF beskikbaar is), kan gesien word dat goeie afvalwaterbestuur ‘n moontlikheid is, want sekere munisipaliteite se tellings is reeds baie goed. Hierdie voorgeskrewe tellings sal die enigste aanvaarbare/betroubare prestasieteiken vir Mafube Plaaslike Munisipaliteit bly. MBF hoop dat die minister se voorstelle, wat ook in ons “Stakeholders’ Compact” ingesluit is, sal realiseer sodat besighede en die gemeenskap toegelaat sal word om die munisipaliteit by te staan.
Die volledige verslae oor Mafube se Blou-en Groen Druppel tellings sal volgens beplanning in die volgende uitgawe van die Frankfort Herald gepubliseer word.
Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org Besoek ons webwerf by www.mafubebf.org Ons is ook op Facebook
Comments