top of page
Writer's pictureMBF

Die Frankfort/Tweeling-pad – gevaarlik vir padgebruikers



"Genoeg is genoeg!" “Ons is Gatvol!”

Dit is wat gemeenskappe te sê gehad het op Dinsdagoggend 16 November, toe die gemeenskap van Tweeling en Mafahlaneng, georganiseerde arbeid, die Mafube Besigheidsforum (MBF), die Mafube Taxi Association en Distrik Landbou Unie, almal bymekaar gekom het om te betoog teen die swak toestand van die R 26 provinsiale roete tussen Tweeling en Frankfort.

Die projek van meer as R177M om die pad te rehabiliteer, het gedurende 2019 begin, maar is om een of ander onverklaarbare rede laat vaar toe die kontrakteur meer as 'n jaar gelede van die perseel af verkas het. Die pad is tans in 'n skokkende toestand en gebruikers het te kampe met 'n mengelmoes van halfvoltooide dele, slaggate, hope gestorte materiaal, dik gruis, rotse en erg geërodeerde verbypaaie aan weerskante van die oorspronklike pad. Dit is onveilig vir enige vorm van verkeer en byna onbegaanbaar vir ligte motorvoertuie.

In 'n memorandum wat aan mnr. Isaac Radebe, Direkteur in die kantoor van die Premier oorhandig is, het MBF hul kommer uitgespreek oor padgebruikers wat gereeld langs hierdie roete moet reis, wat duidelik 'n wesenlike gevaar vir voertuig-insittendes inhou - onder wie skoolkinders, plaaslike of internasionale toeriste, gesondheidsdienste; en polisie, brandweer of ambulanse wat op noodgevalle reageer.

Memoranda is ook namens die 4 ander organisasies aan mnr. Radebe oorhandig, wat aandring op 'n reaksie binne 7 dae om die volgende aan te spreek:

• Om hierdie gedeelte van die pad te prioritiseer vir onmiddellike aanstelling van 'n bekwame kontrakteur om die nodige herstelwerk te doen, om alle gevare uit die weg te ruim en om die rehabilitasie van hierdie gedeelte van die R26-streekroete te hervat. • Om 'n forensiese ondersoek uit te voer om die faktore te bepaal wat bydra tot die huidige toestand van die pad. • Waar geregverdig, om dissiplinêre stappe en/of kriminele aanklagte te neem wat teen diegene wat nalatig of korrup is, aanhangig gemaak en die lewens van padgebruikers in gevaar stel.

Dit is duidelik deur al 5 die gemeenskapsorganisasies gestel dat versuim van die Vrystaatse of Nasionale padowerhede om bevredigend op hierdie dringende saak te reageer, meer drastiese protes en/of regstappe tot gevolg sal hê.

MBF beveel aan dat hierdie roete vermy word en waar dit onverhoedbaar is, om uiters versigtig te wees. Die voledige memoranda sal op MBF se Facebook blad gepubliseer word en die publiek sal gedurig ingelig word omtrent die herstel van hierdie pad.

Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org




8 views0 comments

Comments


bottom of page