top of page
Writer's pictureMBF

GOEIE REËN, MAAR DUUR LES NA ONWETTIGE OPTREDE

Updated: Nov 29

Die onlangse goeie reën in die streek het weereens 2 dinge na vore gebring – die swak

toestand van die stormwaterdreineringstelsel, veral in die sentrale sakekern van Frankfort en die belangrikheid om waterlope en vloedvlaktes te beskerm. In die eerste instansie is dit duidelik dat Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) nie die belangrikheid van die instandhouding van die stormwaterdreineringstelsel verstaan nie en niks gedoen het om vir die voorspelbare gebeurlikheid voor te berei nie. Sommige vloedskade het wel voorgekom, maar die topografie van Frankfort verhoed grootskaalse oorstromings. Aan die ander kant het die afloop wel gelei tot ernstige erosie van die padoppervlak tot nadeel van padgebruikers, besighede en hul kliënte.

Op 23 Mei 2024, tydens die Jaarlikse Begrotingsvergadering van Mafube Plaaslike

Munisipaliteit, is die volgende goedgekeur deur die MPM-raad (soos getuig deur 'n lid van die publiek wat teenwoordig was):


"Item 255B: Mnr. X (naam weerhou) word 'n perseel in besit van die munisipaliteit toegestaan vir 'n motorwassery - struktuur wat opgerig word 90 x 30 meter - moet voldoen aan SPLUMA. ‘n 9 jaar 'n 11-maande huurkontrak".


Dit is duidelik dat die Raad die resolusie goedgekeur het sonder veel, indien enige weerstand. Na die mening van Mafube Business Forum (MBF) is daar nie genoeg tyd aan raadslede gegee om hulself te vergewis van die werklike terrein wat aan die plaaslike sakeman toegestaan is nie en behoorlike toesig kon dus nie uitgeoefen word nie. In werklikheid was die aansoek eerder vir 'n hoender franchise restaurant – nie 'n karwassery nie en moes gebou word op 'n ongeregistreerde/ongeproklameerde perseel in 'n beskermde gebied, naby 'n standhoudende spruit.


MBF het op 1 Julie vanjaar, nadat hulle van die saak bewus geword het, aan die Munisipale Bestuurder geskryf om kommer uit te spreek oor die toekenning van 'n terrein wat ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) beskerm word. Die Wet verbied ontwikkeling in, of binne 32 meter van 'n waterloop sonder omgewingsmagtiging. MBF het die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en Vrystaatse Departement van Omgewingsake (DESTEA) gekontak om duidelikheid te verkry omtrent wetgewing in die verband. Die perseel is besoek deur ‘n DWS ondersoekspan wat die onwettigheid van die voorgenome ontwikkeling bevestig het. MPM en die ontwikkelaar aan wie die perseel wederregtiglik deur MPM toegeken was, is sodanig in kennis gestel. MBF het d.m.v. ‘n PAIA aansoek die verslag bekom met verwysing CMSN 33075 wat gister (21/11/2024) beskikbaar gestel is.


Ten spyte daarvan dat hy deur amptenare van die departemente van omgewingsake en water en sanitasie gewaarsku is, het die sakeman voortgegaan met sy ontwikkeling en is gesien hoe hy toesig hou oor die storting van bourommel op die terrein op Donderdag 14 November.


Tydens die swaar reën op Vrydag 15 November het die gebied oorstroom soos voorspel is, en as daar vordering gemaak is met die ontwikkeling, sou die sakeman skade aan sy eiendom en gevolglike finansiële verliese gely het. Dit natuurlik, buiten die skade aan die omgewing.


MBF is bekommerd oor die kortsigtigheid en gebrek aan behoorlike toesig in die toekenning van munisipale eiendom aan polities-verbonde persone. Indien iemand bewus is van twyfelagtige eiendomstransaksies, stel MBF asseblief onverwyld in kennis.


Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.




8 views0 comments

Comments


bottom of page