Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) was voor die SAMRK gedaag in Maart 2024, nadat hulle soos ‘n paar ander munisipaliteite, nie dienste aan hulle gemeenskappe verskaf het soos wat die Grondwet dit verplig nie. Mafube Besigheidsforum (MBF), was nog altyd van mening dat MPM 'n spesiale geval is, waar ingryping nodig is en het reeds 'n aantal jare gelede die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) genader (klagnommer FS 2021/0361) om 'n ondersoek te doen na die haglike toedrag van sake by MPM. Dit kom werklik voor asof "KFC en Duitse luukse motors" 'n groter prioriteit is as dienslewering!
Na die ondersoek moes die Waarnemende Munisipale Bestuurder, Advokaat Mothusi Lepheana op 28 Maart 2024 verantwoording doen en 'n voorlegging namens MPM in handig - volledige video beskikbaar*.
Sommige van die hoogtepunte (of eerder laagtepunte!) van Lepheana se getuienis is:
Leheana het sy opdrag ignoreer en sonder ‘n voorlegging opgedaag. Sy kantoorpersoneel en "spam" e-posse was blameer;
die Kommissaris, Dr. Henk Boshoff het hom vermaan, want Lepheana was voorheen in diens van die SAMRK as hoof van die Vrystaat, en dus vertroud met prosedures;
Dr. Boshoff was sigbaar geskok omdat MPM se water as 100% krities uitgewys is in die Blou- en Groendruppel-graderings vanaf DWS;
Lepheana aanvaar nie verantwoordelikheid vir rioolstorting nie, hy blameer “sabotasie deur Burgerlike Instansies” daarvoor – het glo bewyse daarvan op sy foon;
Lepheana openbaar dat ‘n Miljard Rand beskikbaar is vir die opgradering van waterinfrastruktuur van Mafube, maar kon geen konkrete besonderhede verskaf nie;
Lepheana erken dat huidige senior poste grootliks deur waarnemende personeel behartig word, en dat hulle nie gekwalifiseer is vir die posisies nie;
Lepheana het belowe dat alle vakante senior poste binne die administrasie van MPM, nie later nie as 29 April 2024 deur gekwalifiseerde persone gevul sal wees; en
Lepheana het onderneem om sonder versuim 'n omvattende voorlegging aan die Kommissie te verskaf.
MBF het verlede week 'n brief van die Kommissie ontvang met die volgende bevindinge in verband met MPM:
Die Kommissie het 'n aanmaningsbrief na MPM gestuur en ondersoeke met betrekking tot MBF se klagtes gedoen.
Daar is bevind dat menseregte steeds in Mafube misken word;
MPM het nie inligting aan die Kommissie verskaf soos versoek was nie;
MPM het geen samewerking getoon toe die kommissie kontak gemaak het vir vergaderings en hul terugvoer op klagtes nie; en
Lepheana se persoonlike verskyning voor die Kommissie beeld die voortgesette skending van menseregte in Mafube uit.
Uit hierdie brief lyk dit onwaarskynlik of Lepheana, alhoewel onder eed belowe, verdere inligting aan die Kommissie voorgelê het. MBF is besig om 'n verdere voorlegging aan die SAMRK voor te berei.
Foto: Dr. Henk Boshoff, SAMRK en Adv. Mothusi Lepheana
*Skakel na sitting: https://www.youtube.com/watch?v=jJktaqQHroY&t=29491s
MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.
留言