Die munisipaliteit reik nou briewe uit aan veral besigheidseienaars, waarin daar beweer word dat hul dispute hanteer is. Dit word gedoen deur dood eenvoudig 40% af te trek van die bedrag verskuldig. Daar word dan aangedring dat bedrag, eensydiglik bereken deur MPM binne 3 dae betaalbaar is. Rommelverwydering word afgeskryf maar slegs vir die tydperk tussen 2018 en 2020.
Bogenoemde aanslag wys dat die kwessies in dispute nie werklik oorweeg en op meriete hanteer word nie. Teen die huidige tempo waarteen daar gewerk word by MPM, sal dit jare neem om al die dispute op te los.

Wat behoort te gebeur:
Indien u ‘n dispuut verklaar het moet ‘n amptenaar van MPM met u kontak maak. ‘n Afspraak moet dan gereël word om die dispuut te bespreek – dit is ‘n 2-rigting gesprek. Verbruikers moet die geleentheid gebied word om hulle griewe te opper en ook om bewyse te kan lewer oor die onstaan van die dispuut en watter syfers betwis word. Volgens die beleidsdokument van MPM, moet dit binne 3 maande vanaf die ontvangs van die dispuut uitgeklaar word tot bevrediging van beide partye. Verbruikers het die reg om op verteenwoordiging aan te dring, waarmeë MBF u behulpsaam kan wees.
Stappe om te volg: 1. Wees kalm en beleefd. 2. Moenie enige uitlatings maak wat later teen u gebruik kan word nie. 3. Erken slegs ontvangs indien u korrespondensie per hand in die verband ontvang, 4. Moenie enige ondernemings maak nie. 5. Dring aan op ‘n volledige rekeningstaat. 6. Kontak MBF so gou moontlik. 7. MBF sal u dan bystaan met skrywe en/of om weer ‘n nuwe dispuut aanhangig te maak indien dit nodig sou wees. 8. MBF sal u ook bystaan met verdere onderhandelinge met MPM en kan ook waar dit nodig geag word, verdere regsstappe neem teen MPM.
MBF nooi inwoners, besigheidseienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.
Commenti