top of page
Writer's pictureMBF

Nasionale ingryping by Mafube?

Op 7 April het die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) aangekondig dat die Kabinet die ingryping ingevolge Artikel 139(7) van die Grondwet in die Mangaung Metropolitaanse munisipaliteit goedgekeur het. Mangaung (Bloemfontein) ervaar reeds vir 'n lang tydperk aansienlike finansiële en diensleweringsmislukkings. Bo en behalwe ’n onetiese organisasiekultuur is dit meestal te wyte aan swak finansiële bestuur, tekort aan vaardighede en ’n ondoeltreffende (of nie-bestaande) prestasiebestuurstelsel. As ‘n nagevolg van nasionale ingryping sal verpligte ontbinding van die Mangaung munisipale raad waarskynlik plaasvind.


Die ingryping by Mangaung het byna ongemerk in die media verloop en Mafube-inwoners is dalk nie bewus van die betekenis van hierdie “finale stap” wat deur die Nasionale regering geneem is nie. Dit volg nadat die Vrystaatse provinsiale regering vir meer as twee jaar versuim het om sy finansiële herstelplan by Mangaung in werking te stel. Dit wek twyfel oor die vermoë en kapasiteit van die provinsiale leierskap om sy grondwetlike verpligtinge na te kom waar en wanneer hierdie tipe ingryping benodig word. ’n Mens sou dink dat Bloemfontein, as die setel van provinsiale regering, geprioritiseer sou word, en alle beskikbare hulpbronne beskikbaar gestel sou word om herstel by die metro te bewerkstellig.

In die aanloop tot die hooggeregshof-uitdaging deur Mafube Business Forum (MBF), het die provinsiale departement van CoGTA in 'n beëdigde verklaring baie moeite gedoen om te probeer bewys dat die diskresionêre ingryping by Mafube sedert 2017 suksesvol was, maar toe die saak in die hof aangehoor is, is daar erken dat, soos by Mangaung, die deurslaggewende Munisipale Finansiële Herstelplan (MFRP) nooit geïmplementeer is nie. Verbasend genoeg, ten spyte van mislukking in hierdie verband en met duidelike bewyse dat dienslewering nie verbeter het nie, is 'n besluit deur die Provinsiale Uitvoerende Bestuur geneem om ingryping by Mafube Plaaslike Munisipaliteit vanaf 30 Maart 2021op te skort. In 'n ietwat eienaardige wending het advokate wat namens alle respondente (insluitend die Presidensie en Nasionale Tesourie) optree, erken het dat hierdie besluit voortydig was en het gesê dat ingryping deur die provinsiale owerhede ingevolge artikel 139(4) en (5) binnekort sal gebeur.


Met die duidelike mislukking by Mangaung, is dit nou minder waarskynlik dat die "dreigende" provinsiale ingryping by Mafube sal plaasvind. MBF is dus versigtig optimisties dat die Nasionale Hoofbestuur inderdaad sal verbind tot artikel 139(7)-ingryping by Mafube, hetsy deur 'n kabinetsbesluit of op bevel van die hooggeregshof.


MBF bly van die oortuiging dat slegs deur nasionale ingryping, die implementering van die “Mafube Stakeholders’ Compact”, aktiewe betrokkenheid deur die sakesektor en inwoners, ons munisipaliteit weer sal opstaan as 'n funksionerende entiteit, om ons gemeenskap te dien soos beoog in plaaslike regeringswetgewing en ons nasionale grondwet.

Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30. Kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295, stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org, of besoek www.mafubebf.org



2 views0 comments

Comments


bottom of page