top of page
Writer's pictureMBF

NERSA HUL FRANKFORT IN DONKER

Die inwoners van Frankfort in die Vrystaat sal nes die res van die land met beurtkrag moet saamleef nadat die energiereguleerder Nersa sy hande gewas het van ’n geskil oor hul plan om sonkrag van nabygeleë sonplase bedags te gebruik om beurtkrag te vermy.

Eskom is hewig daarteen gekant.

Nersa se standpunt is gegrond op foutiewe feite en ongetoetste inligting, sê Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural Mainte­nance, wat kragverskaffing ingevolge ’n kontrak van 25 jaar namens die Mafube-munisipaliteit behartig. Mafube sluit die dorpe Frankfort, Villiers en Tweeling in.



Volgens Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, het Nersa daarmee ’n kans verspeel om duidelikheid te verskaf oor ’n kritiek belangrike kwessie vir almal wat hoop om hulself en hul gemeenskappe deur alternatiewe kragbronne teen Eskom se kragtekort te verskans.

Henriëtte Botha, eienaar van ’n sportkroeg in Frankfort, sê sy moet ’n kragopwekker gebruik wanneer beurtkrag toeslaan. Wanneer klante voor die deur stilhou, is die gedreun daarvan die eerste ding wat hulle hoor en die brandstof alleen kos haar R6 500 per maand.

Heidi du Plooy, wat reeds 30 jaar ’n dierehotel op die dorp bedryf, sê met dit wat beurtkrag haar kos, kon sy nog ’n personeellid aangestel het.

Rural Maintenance het gehoop Nersa sou duidelikheid gee oor die vertolking van sekere begrippe in die beurtkragreëls waaroor hy en Eskom verskil, maar Nersa het dié week laat weet hy beskou bemiddeling in dié geval as sinloos. Die geskil gaan oor die vlak waarteen Rural Maintenance moet bereken met hoeveel hy die aanvraag moet verminder wanneer Eskom beurtkrag aankondig.



Met fase 1-beurtkrag moet die “normale lasprofiel” (aanvraag) byvoorbeeld met 5% verminder word. Die vraag waaroor die geskil gaan, is of die sonkrag ingesluit is by dié lasprofiel of nie.

Indien nie, kan die sonkrag gebruik word om die 5% Eskomkrag te vervang en bly die ligte aan.

Nersa het aanvanklik met Rural Mainte­nance vergader om te hoor wat die probleem is. Daarna het die reguleerder met Eskom en die munisipaliteit vergader en skynbaar beskuldigings wat daar teen Rural Mainte­nance gemaak is, sonder meer aanvaar.

In die brief wat hy dié week aan die partye gestuur het, verklaar Nersa onder meer die sonkrag is wel ingesluit, sonder dat hy Rural Mainte­nance se argumente daaroor aangehoor het of redes gee vir sy standpunt.

Nog ’n rede waarom bemiddeling volgens Nersa sinloos is, is dat “die sonplaas nie by Nersa geregistreer is” nie. Rural Mainte­nance het egter die registrasiedokumente by sy aanvanklike korrespondensie met Nersa ingesluit. Dit is boonop onderteken deur adv. Nomalanga Sithole, uitvoerende hoof van die reguleerder, en dieselfde persoon onder wie se handtekening die registrasie nou ontken word.

Rural Mainte­nance spreek in ’n prokureursbrief Vrydag aan Nersa sy “ongeloof en woede” hieroor uit en vra of Sithole ooit die brief aan Rural Mainte­nance gelees het voordat sy dit onderteken het.

“As sy het, sou sy dalk hierdie feitefout opgemerk het,” lui die brief.

Yelland sê hy is stomgeslaan deur die ontoereikendheid van Nersa se standpunt.

“Dit is uiters belangrik dat die wese van die kwessie aangeroer word. Dit bepaal beleggingsbesluite en solank die onsekerheid voortduur, het dit ’n uitwerking op die ekonomie, krag­voor­sie­ning en die ontwikkeling van verdere opwekkingsprojekte.”

Nersa grond sy benadering verder daarop dat die Mafube-mu­ni­si­paliteit nie Rural Mainte­nance se standpunt ondersteun nie. Rural Mainte­nance erken dit, maar sê die munisipale bestuurder, adv. Mothusi Lepheana, tree nie in belang van die inwoners op nie en kon nog nooit sy standpunt regverdig nie.

Hans Pretorius, ’n stigterslid van die Mafube Sakeforum, het in die munisipale raad gedien toe die kontrak met Rural Mainte­nance gesluit is.

“Rural is goed vir die gemeenskap, maar nie vir die (regerende) ANC nie,” sê hy.

“Omdat die raad nie meer ’n greep het op die inkomste uit kragverkope nie, kan die geld wat aan Eskom betaal moet word vir grootmaataankope nie meer elders aangewend word nie en die kraantjies van korrupsie is toegedraai,” sê Pretorius.

“Rural se goeie diens bring ’n politieke bekering in Mafube en die ANC kan dit nie hanteer nie.”



Inwoners oor alle grense heen het nou ’n politieke party gestig met die naam Mafube Eerste, wat net op dienslewering gemik is, bevestig Pretorius.

Die munisipaliteit se teenstand teen Rural Mainte­nance maak inwoners woedend.

“Dit voel of die munisipaliteit jou menswees en jou opinie as inwoner van die dorp minag,” sê Botha. “Hy (Lepheana) het die mag om almal se situasie te verbeter, maar hy kies om dit nie te doen nie.”

Intussen is die munisipaliteit se eie dienslewering power met strate wat besaai is met slaggate en riool wat in die rivier inloop.

Du Plooy sê die munisipaliteit gee nie om vir die besighede in die dorp nie. “As dit nie vir Rural was nie, was hierdie dorp se besighede al almal toe. Rural dra ons dorp, of die munisipaliteit dit wil weet of nie.”

Fotos: 1) Die hoofstraat van Frankfort in die Vrystaat. 2) Die riool loop al 3 maande lank uit die mangat... 3) Hans Pretorius, stigterslid van die Mafube Sakeforum.

0 views0 comments

コメント


bottom of page