top of page
Writer's pictureMBF

Onderhoud met Jan du Toit



Die Mafube Besigheidsforum (MBF) gesels met Jan du Toit, tydens die opening van die nuwe OK Minimark in Villiers.

Jan, vertel ons asseblief ‘n bietjie meer omtrent jouself en waar alles begin het vir julle?

Ek is ‘n boer van die Heilbron-omgewing en ons het so 12 jaar gelede besluit om te diversifiseer en het toe betrokke geraak by die OK groep. Oor ‘n aantal jare het ons die besigheid opgebou. Ons bedryf reeds twee ander OK kleinhandel winkels in die Vrystaat – een in Bultfontein en een in Petrus Steyn. Villiers sal diederde winkel in ons familie wees.

Is dit waar dat die hele gesin betrokke is in die besigheid?Wat die rol is van elkeen en hoe werk julle saam?

Ja, ons hele gesin is betrokke. Ek en my twee seuns, André en Francois bestuur gesamentlik die winkels. Hulle is verantwoordelikvir van die vele daaglikse take soos administrasie, aankope en kliëntediens. Ons vul mekaar goed aan en my vrou Janet gee ook ondersteuning.

Is OK Minimark ‘n nuwe konsep? Verduidelik asseblief hoe dit werk.

Alhoewel dit Villiers se eerste OK Minimark is, is dit nie ‘n nuwe konsep nie. Die model pas besonder goed in om te voorsien aan die behoeftes van plattelandse gemeenskappe. Die winkel in Villiers is ‘n rapsie kleiner as 500 vierkante meter, met ‘n wye reeks van premium produkte, groente en vrugte, ‘n slaghuis, ‘n bakery met vars gebak en ook warm- en wegneem etes. Ons drankwinkel maak ook eersdaags oop. Wat ons tak op Villiers besonder maak is dat ons ook ‘n koffiekroeg het – die eerste Best Brew in die land. Hier kan ons kliënte lekker smul aan die etes en gebak wat ons op die perseel berei en kuier oor ‘n lekker koppie van die beste koffie.

Ons het ‘n paar bekende gesigte opgemerk in die winkel. Hoeveel plaaslike mense neem julle in diens?

Dit is altyd ons beleid om plaaslike mense in diens te neem. Tot op hede is daar reed 30 plaaslike inwoners in verskillende posisies aangestel. Almal is gemotiveerd en geniet die opleidingsfase. Woensdag 24 November is ons groot opening. Ons wil he alles moet reg verloop en vriendelike kliëntediens sal in ons bedryf altyd die belangrikste wees.

Villiers is die toonbeeld van die ekonomiese verval wat in talle klein Vrystaatse dorpies sigbaar is. Waarom het julle besluit om juis in ‘n belegging in Villiers te maak en jul besigheid hier uit te brei?

Dit is baie duidelik dat Villiers ‘n groot potensiaal vir ontwikkeling het en omdat ons langtermyn dink, het ons die kans aangegryp om hier te belê. Ons glo dat Villiers in die verlede miskien ‘n bietjie afgeskeep was met groot handelsname en goeie diens. Dit het ‘n deur van geleentheid vir ons oopgemaak, iets waarna ons altyd op soek is. Ons is gewoond daaraan om hard te werk. Die OK-franchise ondersteun ons, en ons is opgewonde optimisties dat die winkel ‘n suksesvolle bydrae tot Villiers kan lewer. Ons en ons werknemers is baie opgewonde oor die toekoms, veral nou dat dit bekend geword het dat groot ontwikkeling en investering binnekort na Villiers sal kom.

Wat is van die uitdagings wat julle ervaar het nadat julle besluit om julself in Villiers te vestig?

Sjoe, dit was nie maklik nie. Die grootste probleem is maar altyd die trae houding en reaksies onder plaaslike regeringsamptenare wat alles belemmer en vertraag. Ons het byvoorbeeld 8 maande gewag vir die bouplanne om geodgekeur te word. Dan is daar maar ook altyd die vraag rondom dienste en die verbrokkelende infrastruktuur. Enige belegger wil darem weet dat daar water en elektrisiteit sal wees.

Watter raad het jy vir ander besighede wat ook in die streek wil belê?

Soos die engelsman sou se: “Just do it!” Daar is geleenthede vir almal maar doen jou beplanning deeglik. Gebruik kundiges waar jy kan, maar praat ook met die gewone mense omtrent hulle behoeftes. Word deel van die plaaslike gemeenskap!

Hoe sien julle die rol van MBF?

‘n Organisasie wat op plaaslike vlak omsien na die belange van besighede is uiters belangrik. Ons is baie beindruk met die visie en leierskap van MBF en dit wat hulle reeds reggekry het binne die Mafube streek. Vir enige saak om te floreer moet daar deelname wees en saam gesels word oor die toekoms.

Hoe kan MBF besighede bystaan met die einddoel om meer beleggings na ons streek te lok?

Ek dink MBF het reeds bewys waartoe hulle in staat is met die sonkragprojekte en die interaksie met regerings departemente. Ons is vol vertroue dat indien die kwessie rondom plaaslike regering uitgesorteer word, en water en krag volhoubaar en koste-effektief te bestuur kan word, vele ander besighede dit ook sivols sal beskou om hier te belê.

Fotobyskrif: Francois (heel links) en Andre du Toit (heel regs) behartig die amptelike opening van OK Minimark in Villiers.

Fotobyskrif: MBF se bestuurspan saam by die opening van OK Minimark in Villiers. van Links na regs, Jacques Jansen van Vuuren, Mmalerato Motsoeneng, Alice Botha, Marlize Boshoff, Jannie Schabort, Hans Pretorius, Jan-, Andre- en Francois du Toit (eienaars van die OK tak) en Mauritz Alberts (Algemene Bestuurder van die OK Franchise groep).

0 views0 comments

Comentarios


bottom of page