Meer as 670 kilometer se provinsiale paaie in die Vrystaat is tot nasionale roetes verklaar, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) aangekondig.
Waarnemende streekbestuurder vir SANRAL se oostelike streek, Dudley Mbambo, het gesê: “Om die 674 kilometer se provinsiale paaie by SANRAL se nasionale padnetwerk in te sluit is ’n deurslaggewende stap in die rigting van die verbetering van Suid-Afrika se vervoerinfrastruktuur.”
Mbambo het gesê dit is 'n belangrike stap om druk op die provinsie te verlig en paaie veiliger te maak. "Die opgradering van hierdie padkorridors sal 'n massiewe hupstoot gee aan die ekonomie van die streek en sal die padkapasiteit in die gebied aansienlik verhoog," het hy gesê.
“SANRAL wil graag 'n dialoog met die gemeenskappe aanmoedig om gladde verloop van ons projekte te verseker en enige moontlike probleme uit te skakel. Ons werk saam met die regering om die plaag van werkloosheid te beveg en daar sal verskeie werksgeleenthede vir die gemeenskap uit hierdie projekte wees,” het SANRAL se Waarnemende Belanghebbende Betrekkinge-koördineerder in die Oostelike Streek, Thandeka Ngema, gesê.
SANRAL wil ook klein sake met vaardighede toerus met ons voor-tender-opleiding wat al 'n paar jaar aan die gang is. Die gemeenskap sal hierdie vaardighede hê lank nadat die projek voltooi is,” het Ngema bygevoeg.
Waarnemende premier van die Vrystaat, Jabu Mbalula, het in 'n boodskap van ondersteuning, SANRAL se volgehoue belegging in die provinsie verwelkom. “Ons wil die Vrystaat 'n konstruksieterrein maak. As regering werk ons aan 'n ontwikkelingsbenadering. Wanneer SANRAL 'n pad in die Vrystaat bou, moet die mense in daardie area regstreeks baat vind. Op dié manier bou ons nie net 'n pad nie, maar bou ons 'n gemeenskap,” het die waarnemende premier gesê.
Die paaie-agentskap is geen vreemdeling vir die provinsie nie, aangesien dit in die verlede padbouprojekte hanteer het. Hoever dit Mafubiërs aangaan, was dit vir lankal baie duidelik dat die provinsiale owerhede nie oor die vermoë beskik om die paaie-infrastruktuur in stand te hou nie. Dit het gedurende 2022 op ‘n suksesvolle protesaksie uitgeloop waaraan Mafube Besigheidsforum (MBF) en ons plaaslike Distriks Landbou Unie deelgeneem het, om die R26 tussen Frankfort en Tweeling reg te maak. In die Staatskoerant van 22 November, is daar aangekondig dat die hele R26 vanaf Villiers tot by Bethlehem nou onder die jurisdiksie van SANRAL sal val. (Nee! – dit sal nie ‘n tolpad word nie!)
MBF vertrou dat deur die toetrede van SANRAL, die paaie in ons omgewing beter bestuur sal word, wat ‘n positiewe invloed sal hê op ons plaaslike ekonomie en veral toerisme sal bevorder.
MBF herinner inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers dat ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort sal heropen op 6 Januarie 2025. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.
Comments