Slaggate, veral in die Vystaat, het ongelukkig al te algemeen in ons daaglikse lewens geword en het padverbruikers dit al amper gewoond geraak. Hoewel ons almal weet dat dit die beste is om hierdie nare kraters te omseil, vind ons dit soms onvermybaar, met die gevolg dat ons voertuie skade opdoen – gewoonlik bande en wiele wat onherstelbaar beskadig word, maar ook skade aan veringstelsels, skokbrekers ander komponente. Wanneer ‘n slaggat getref word kan dit ernstige nagevolge hê omdat insittendes ook blootgestel word aan moontlike beserings en in uiterste gevalle kan dit selfs noodlottig wees. Hierdie kan uiteindelik lei tot aanspreeklikheidseise teen die bestuurder.
In geval van skade, eis voertuigeienaars gewoonlik vanaf hulle versekeraars maar hulle kan ook vir skadevergoeding eis van, óf die betrokke munisipaliteit, óf die verantwoordelike padagentskapsoos die Vrystaatse Departement van Paaie, Polisie en Vervoer, óf SANRAL. Arrive Alive het in ‘n onlangse verklaring die volgende bevestig:
"Daar is 'n verantwoordelikheid aan die kant van die owerheid om paaie in stand te hou en slaggate te herstel. Dit sal egter ook 'n saak wees vir die bewysreg sowel as 'n saak om nalatigheid vas te stel. Die vraag sou wees of daar versuim aan die kant van die paaie- of munisipale owerheid was om nie daardie slaggat te herstel nie om daardeur 'n duidelike en huidige gevaar vir die padgebruiker uit die weg te ruim.” “Daar is gevalle in ons wet aangemeld van aansienlike skadevergoeding wat toegeken is aan mense wat beseer is in ongelukke wat deur hierdie slaggate veroorsaak is.”
Wat om te doen indien u ‘n slaggat tref
LET WEL: Selfs as jy 'n diep slaggat teen 'n relatiewe lae spoed tref, en nie noodwendig skade aan bande en wiele opdoen nie, kan die skade onopsigtelik wees. Dit is die beste om jou voertuig te laat nagaan vir enige onderstel skade. Kontroleer ook jou wielsporing aangesien die impak (ongeag spoed) ’n negatiewe uitwerking op jou motor se stuurstelselen vering kan hê. Mafube Besigheidsforum (MBF) beveel die volgende aan:
• Bepaal die skade • Teken die besonderhede aan • Rapporteer dit • Dien 'n eis in
MBF sal ons lede graag bystaan met enige eise teen Mafube Munisipaliteit of die Vrystaatse padowerhede. Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org
Comments