top of page
Writer's pictureMBF

Terugvoer uit die gemeenskap na onderhoud op SAFM



Op Dinsdag 8 Februarie 2022 het KG (Kgomotso) Moeketsi van SAFM ‘n onderhoud met mnr. Jannie Schabort, voorsitter van Mafube Besigheidsforum (MBF) en mnr. Josie Ralebenya, munisipale bestuurder van Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) gevoer. Dit was ‘n gebalanseerde gesprek en sekere kwessies rakende dienslewering en die Hooggeregshofsaak is bespreek. KG was besonder goed ingelig omtrent die saak en het voortdurend uit die hofstukke aangehaal.

Onmiddelik na die afloop van die onderhoud het inwoners vanuit die Mafube gemeenskap met MBF se kantoor geskakel. Interessante inligting het van uit verskeie oorde gekom.

• Ons het uitgevind dat die probleme wat inwoners met munisipale-rekeninge en -state ondervind, na bewering ook besighede beïnvloed. Besighede het volgens bronne getrou hul munisipale rekening betaal, maar die bedrag was nooit op hul state gekrediteer nie. Op navraag, het MPM glo gevra dat die besigheid self die berekeninge moet doen – die aanvangsbedrag was mos aan die besigheid bekend.

• Dit het aan die lig gekom dat die JoJo-tanks wat in Namahadi en omstreke opgesit is vir watervoorsiening aan die woongebied, volgens inwoners nie gesteriliseer word nie. Dus gebruik hulle nie die water daaruit nie. Die watertrokke wat MPM na die woonareas stuur, arriveer volgens die inwoners vele kere nadat hulle werk toe is. Dus moet daardie huishoudings dan weer sonder water deur die dag kom.

• Vullisverwyderingskedules is steeds ‘n groot raaisel. Daar word gesê dat die tye daarvoor soms op sosiale media versprei word, maar die areas waar dit plaasvind is glo gewoonlik baie spesifiek, en glo net tot voordeel van sekere “connected” mense. Inwoners sê dat daar soms ‘n trok 06h00 in die oggend verbykom, maar slegs een huis in die straat se vullis oplaai, en dan word die trok vir die res van die dag nie weer gesien nie.

• Een luisteraar het kommentaar gelewer op die“yellow fleet”. Sy het genoem dat hulle self vir ‘n TLB moet reël en betaal wanneer daar ‘n graf gegrawe moet word.

• Watermeters stel blykbaar ook ander uitdagings. Daar was volgens ‘n inwoner twee meters met dieselfde nommer. Dus het hierdie inwoner besonder gereeld groothoeveelhede water gekoop, terwyl die ander “spook-eienaar” van daardie meternommer, die water help opgebruik het. Na baie ondersoek was die fout opgespoor, maar sy was nooit gekrediteer vir haar verliese nie.

Administrasie, rekordhouding en beplanning blyk groot uitdagings vir MPM te wees. Al die sente en rande wat op die grond val sonder om opgetel te word, bou op tot groot somme geld.

Elke inwoner van Mafube moet sy wyksraadslid inlig van probleme in sy of haar omgewing. Klagtes en probleme moet asseblief opgevolg word as dit nie opgelos is nie.

MBF bly daartoe verbind om die gemeenskap by te staan. Kontak ons gerus en vertel ons van u probleme rakende dienslewering. Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A gedurende besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h00 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 0791454295 of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org

4 views0 comments

Kommentare


bottom of page