Die gemeenskapsorganisasie Mafube Besigheidsforum (MBF) het as 1ste Applikant saam met die drukgroep Afriforum, 'n hofaksie namens inwoners en die sakegemeenskap van Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia in die Bloemfonteinse Hooggeregshof geloods. Respondente in die saak is die Mafube Plaaslike Munisipaliteit, LUR'e en ministers van verskeie nasionale en provinsiale regeringsdepartemente, en president Cyril Ramaphosa as hoof van die Nasionale Uitvoerende gesag. Dit volg ná jare se struwelinge met die wanfunksionele munisipaliteit en verskeie staatsdepartemente, oor swak bestuur en dienslewering. MBF en Afriforum wil dit duidelik stel dat die hofaksie as 'n laaste uitweg gesien word aangesien alle ander remedies uitgeput is. Die twee liggame het gister 27 Januarie in die Bloemfonteinse hooggeregshof aangevoer dat die munisipaliteit sy grondwetlike mandaat verbreek omdat hy nie die verskaffing van dienste aan die gemeenskap op 'n volhoubare wyse verseker het nie, en vir sy onvermoë om 'n veilige en gesonde omgewing vir die gemeenskap te bevorder.
Advokate Frik Erasmus SC en Paul Eilers het namens die Applikante 'n baie sterk saak vir ingryping deur die Nasionale Uitvoerende gesag aan regter Ilse van Rhyn voorgelê en 'n baie oortuigende argument gevoer dat die gemeenskap van Mafube toegelaat moet word om betrokke te wees by die heropbou van hul mislukte munisipaliteit. Nie minder nie as 7 advokate met volle ondersteunende personeel, wat die 17 respondente verteenwoordig het, het die mosies wat deur die applikante gestel is, teengestaan. Van besondere belang was dat terwyl nasionale ingryping die ontbinding van die onlangs verkose munisipale raad vereis, die respondente se advokate dit heftig teengestaan het , maar geen alternatiewe aangebied het nie. Met ‘n swak bewoorde argument het ‘n advokaat, wat namens die munisipaliteit en 'n aantal ander respondente optree, gesê dat "...die verkose raad toegelaat moet word om te misluk." Dit is nie net totaal onaanvaarbaar vir die geduldige gemeenskap wat nie verdere langdurige gebrek aan dienslewering kan bekostig nie, maar dit illustreer 'n swak verbloemde erkenning dat die nuutverkose raad feitlik geen kans tot sukses het nie.
Die bevele wat van regter van Rhyn aangevra word, is inderdaad verreikend en indien dit aan die Applikante toegestaan word, sal dit beslis 'n presedent skep, maar soos alle partye toegegee het, verg drastiese tye drastiese ingryping. Die vernaamste implikasie van 'n gunstige uitspraak in hierdie saak sal groter betrokkenheid van gemeenskappe beteken om deursigtigheid, aanspreeklikheid en toeganklikheid te verseker soos beoog word in plaaslike regeringswetgewing en ons nasionale Grondwet.
MBF en sy strategiese vennoot Afriforum, sien vol verwagting uit na die uitspraak wat binne 30 dae verwag word.
Foto: OFM
Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org
Comments