Mafube Business Forum (MBF) het in ‘n mediaverklaring gewaarsku dat “Op 24 Mei sal die munisipale raad waarskynlik weer ’n onbefondsde jaarlikse begroting weer onregmatig goedkeur.”
MBF was toe nie heeltemal verkeerd nie, behalwe vir die datum van die vergadering wat onverwags en sonder kennisgewing aan die publiek, vervroeg is na Donderdag 23 Mei! Die werklike vergaderingsdatum pla nie te veel nie, maar wat MBF, asook die gemeenskap van Mafube baie bekommerd maak, is dat die Raad en administrasie by Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM), op hierdie vernietigende pad voortgaan met die minagting van verpligte prosesse t.o.v. die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 56 van 2003 (MFMA), Tesourie-riglyne, CoGTA-omsendbriewe en die Opdrag van die Provinsiale Uitvoerende Verteenwoordiger. Soos MBF gewaarsku het, “Die begroting sal weereens onbefonds wees, met geen gevolge vir die amptenare en Raad van Mafube. Ook nie vir die provinsiale owerhede wat met arms gevou staan nie.”
“Die enigste gevolge sal vir die gemeenskap van Mafube wees, wat steeds onder die gevolge van swak dienslewering sal ly.”
“Inwoners word gedwing om te leef met riool wat in die ooptes opborrel, watertekorte en paaie deurspek met slaggate, tog is munisipale begrotings vol verwysings na "gemeenskapsbetrokkenheid-imbizo's".
Dit was die sentimente van CoGTA-minister Thembi Nkadimeng toe sy gepraat het oor die stand van munisipaliteite by die distriksontwikkelingsmodel (DDM)-konferensie in Julie 2023. Nkadimeng het gesê daar was 168 munisipaliteite met onbefondsde begrotings vir die 2023/4-boekjaar. Sy het bevind die begrotings het "gemeenskapsverbintenisse" en het nie basiese diensleweringsbehoeftes geprioritiseer nie. 'n Onbefondsde begroting beteken dat 'n munisipaliteit 'n finansiële verbintenis vir projekte aangegaan het, maar nie die geld gehad het daarvor nie, wat tot toenemende skuld gelei het.
“Wat selfs erger is van hierdie onbefondsde begrotings, is dat niks deurgevoer word na [verbetering] van paaie, beter watervoorsiening nie, niks word deurgevoer na wat jy dink tasbaar is en deur gemeenskapslede nodig is nie.” “Daar is kokende/borrelende riool in die straat en daar is geen paaie nie.”
Die minister het munisipale rade die skuld gegee vir die goedkeuring van onbefondsde begrotings en korrupsie in munisipaliteite, en gesê dit floreer omdat: 1) amptenare nie bedrog rapporteer nie; en 2) wanbestuur van fondse in plaaslike regering voortduur, selfs al bestaan ‘n finansiële bestuursraamwerk wat gevolg moet word.
MBF spreek die hoop uit dat hierdie onbefondsde begroting van MPM aangespreek sal word en het ‘n skrywe in hierdie verband gerig na die Vrystaatse LUR en CoGTA minister.
MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook
Comments