Die afgelope paar maande is daar 'n menige aantal waterlekkasies gerapporteer. Sekere lekkasies bestaan reeds vanaf November 2021. In 2022 alleen het die waterpyp voor Mafube Business Forum (MBF) se kantoor al twee keer gebars. Elke keer as so iets gebeur gaan duisende liters kraanwater verlore, met die gevolg dat die dorp (of gedeeltes van die dorp) dan vir die soveelste keer weer sonder water is. Sekere lekkasies en gevalle waar daar geen water is nie, wat elders in die dorp gerapporteer is, word geïgnoreer. Inwoners is dan genoop om die probleem op eie koste op te los. Wanneer Mafube wel herstelwerk doen, word daar noodwendig skade aan die padoppervlakte aangerig. Die oppervlaktes word ongelukkig nie daarna weer herstel nie. Dit dra by tot die verdere agteruitgang van die paaie. Die swak toestand van die waterinfrastruktuur is kommerwekkend. Die waterdrukregulering van die dorp word nie korrek hanteer nie, en is al meer as twee jaar gelede deur MBF uitgewys. As die pype nie eers sonnige somerweer kan hanteer nie, wat gaan in die winter gebeur? Volgens Mafube is die probleem die asbespype (eintlik veselsement) wat nou deur plastiekpype vervang word. Die impak van die gebrek aan lopende water maak dit moeilik vir huishoudings en besighede om behoorlik te funksioneer. Wat hartseer is, is dat terwyl liters kraanwater in die strate afstroom, is daar huishoudings wat nie eers water na hul huise aangelê het nie.
Waterlekkasies word meer en meer
Updated: Mar 3, 2022
Comments